Sjokolade-en-rys crème-karamel

Herman Lensing


Trifle is niks meer as vla, koek en vrugte nie. Hier is my weergawe van gebakte sjokolade-vla met macarons en vars bessies.

Genoeg vir 8

125 ml SPEKKO Jasmine-rys
80 ml water
150 g (190 ml) suiker
250 ml melk
125 ml room
4 eiergele
2 eiers
60 ml kakaopoeier
5 ml vanieljegeursel
75 g (95 ml) suiker
8 sjokolade-macarons
125 g vars aarbeie, gehalveer

Maak rys gaar volgens aanwysings op pakkie. Verhit oond tot 160 °C. Bring water en 150 g suiker in ’n middelslag-pot tot kookpunt. Laat vinnig kook vir 8–10 minute tot goue karamel vorm. Spuit ’n broodpan van 10 x 15 cm met kleefwerende kossproei. Gooi warm karamel onderin broodpan en laat staan tot gestol. Bring melk en room in ’n skoon pot tot kookpunt. Klits eiergele, eiers, kakao, vanieljegeursel en 75 g suiker saam tot lig en romerig. Voeg warm melkmengsel by terwyl jy roer. Voeg gaar rys by en meng deur. Plaas broodpan in oondbak. Vul oondbak halfpad met warm water. Bedek broodpan met foelie en bak vir 50– 60 minute of tot gestol soos jellie. Haal uit oond en laat afkoel. Sit in yskas tot koud. Keer versigtig uit op opdienbord. Sit macarons en aarbeie bo-op. Sit voor.