Foto: Donna Lewis
Noem hierdie een maar ’n seekos- aartappelslaai. Dis alles waarvan ek hou in een slaai. Die romerige eiergeel wat oopbars is jou slaaisous.
Genoeg vir 6 persone
45 ml olyfolie
3 knoffelhuisies, gekap
300 g steurgarnale, doppe verwyder
sout en varsgemaalde swartpeper
75 g (80 ml) botter
sap en skil van 2 suurlemoene
60 ml witasyn
6 eiers
6 aartappels, gaar gekook
400 g aspersies, in kookwater gedompel
Verhit die olie in ’n middelslag-braaipan tot goed warm. Braai die knoffel daarin tot dit begin verkleur. Voeg die garnale by en roerbraai tot goudbruin en gaar, sowat 5 minute. Geur goed met sout en peper. Smelt die botter en suurlemoensap en -skil in die mikrogolfoond. Hou eenkant. Bring ’n pot water tot kookpunt en voeg die asyn daarby. Breek die eiers een vir een daarin en posjeer 3–5 minute vir sag, of langer as jy verkies. Dreineer die eiers versigtig. Sny die aartappels in dun skywe en plaas saam met die aspersies op ’n opskepbord. Gooi die gaar garnale daaroor. Plaas die geposjeerde eiers bo- op en bedruip met die suurlemoenbotter. Sit warm voor.
WENK: Klink geposjeerde eiers na iets wat moeilik is? Maak só as jy sukkel: Voer 6 koppies met kleefplastiek uit – sorg dat dit oor die rand hang. Spuit die kleefplastiek goed met kleefwerende kossproei. Breek ’n eier in elke koppie en bind die plastiek stewig vas met kombuistou. Bring die pot water tot kookpunt en laat sak die sakkies daarin. Posjeer 3–5 minute vir sag, of langer as jy verkies. Knip die sakkies oop en haal versigtig uit. Maklik, sonder enige moeite!