Satés met komynrys

Foto: Michael le Grange


Lekker was nog nooit so glansryk nie! Die rys is lekker geurig en werk hemels saam met kerries en bredies. Probeer dié rys; dis een van daai moet-maak-resepte.

Genoeg vir 6

500 g hoenderblokkies
6 hout-kebabstokkies
80 ml soet sojasous
45 ml olyfolie
2 rooi brandrissies, fyngekap
1 duimgrootte stuk gemmer, gerasper
2 knoffelhuisies, fyngekap
sap en skil van 2 suurlemoene
sout en vars gemaalde swartpeper
40 g (45 ml) botter
30 ml heel komynsaad
250 ml rou SPEKKO SAMAN WHITE RICE
500 ml hoender-aftreksel

Ryg die hoenderblokkies op die kebabstokkies. Meng die soja, olyfolie, brandrissies, gemmer, knoffel en suurlemoensap en -skil saam. Plaas die sosaties in ’n plat glasbak en gooi die sous daaroor. Geur goed met sout en swartpeper.

Laat dit marineer terwyl jy die rys maak: Verhit die botter in ’n middelslagpan tot goed warm. Voeg die komyn en rys by en roerbraai 2–3 minute of tot die rys begin verbruin. Gooi die aftreksel by en verlaag die hitte. Laat 10-12 minute stadig prut of tot die rys gaar is. Geur goed met sout en peper.

Terwyl die rys kook, maak die kebabs gaar: Verhit ’n riffelpan oor hoë hitte tot rook letterlik trek. Braai die kebabs sowat 5 minute per kant of tot mediumgaar. Jy kan dit langer braai as jy dit verkies. Sit die kebabs met die rys voor.