Gebraaide sampioene in bierdeeg

Foto: Donna Lewis


Ek dra hierdie resep aan my pa op. Elke keer as ons as kinders in Upington gaan uiteet het (die keuses op die dorp was maar min!), het my pa vir ons krummelsampioene bestel om aan te peusel voor die kos kom.

Genoeg vir 6

140 g (250 ml) koekmeel
5 ml bakpoeier
20 ml gerookte paprika
sout en varsgemaalde swartpeper
1 eierwit
250 ml bier
sonneblomolie vir diepbraai
250 g (sowat 8) bruinsampioene
suurlemoenwiggies vir voorsit
hoemoes vir voorsit

Sif die meel, bakpoeier en paprika in ’n groot mengbak saam. Geur dit met sout en peper en voeg die eierwit by. Gooi genoeg van die bier geleidelik by en klop dit met ’n draadklitser tot ’n gladde beslag (dit moenie te dun wees nie).

Verwarm genoeg olie vir diepbraai in ’n groot pot. Doop die sampioene een vir een in die beslag en dompel dit dan in die warm olie. Braai 5–8 minute of tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier. Sit met suurlemoenwiggies en hoemoes voor.