Sampioenbrood met winkeldeeg

Foto: Donna Lewis


Solank die smaak van die kos nie in die slag bly nie, is daar geen fout mee te vind om kortpad in die kombuis te kies nie. Een so ’n kortpad wat ek gereeld vat, is supermark toe om sakkies winkeldeeg te gaan koop.

Genoeg vir 8

45 ml olyfolie
40 g (45 ml) botter
1 ui, baie fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
250 g gemengde sampioene
koekmeel vir uitrol
500 g brooddeeg
100 g gruyèrekaas, fyngerasper
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die oond tot 200 °C. Verwarm die olyfolie en botter in ’n groot braaipan. Voeg die ui, knoffel en sampioene by en roerbraai 5–8 minute tot die sampioene halfgaar is. Sprinkel ’n dun laag koekmeel op ’n werkoppervlak, plaas die deeg daarop en druk dit met jou handpalms uit tot ’n dikte van sowat 1 cm – die vorm kan maar one- weredig wees. Plaas die deeg dan op ’n bakplaat wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is en bestrooi dit met die kaas. Skep die gebraaide sampioene oor en geur met sout en peper. Bak 20–25 minute of tot goudbruin en gaar. Laat effens afkoel en sny in skywe. Sit louwarm voor.