Foto: Donna Lewis
Samoesas is my nuwe manier van onthaal. Ek maak hope en hope van dié brosgebraaide juwele, elkeen met sy eie vulsel: van tamatiebredie, smoorsnoek en beesstert tot sjokolade vir nagereg. Sit bakke vol met ’n groot verskeidenheid samoesas en ’n klomp doopsouse op jou tafel en siedaar, jy’t ’n hele ete wat baie anders lyk en ook heerlik smaak.
Genoeg vir 10-12
45 ml olyfolie
250 g bruinsampioene, fyngekap
1 ui, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
1 rooi brandrissie, fyngekap
1 hand vol koljander, fyngekap
200 g gerookte snoek, grate verwyder en baie fyn gevlok
60 ml goeie gehalte-mayonnaise
sout en varsgemaalde swartpeper
45 ml koekmeel
45 ml water
12 velle samoesadeeg
sonneblomolie vir diepbraai
Verwarm die olyfolie in ’n groot braaipan en roerbraai die sampioene 8–10 minute daarin. Plaas die ui, knoffel, rissie, koljander, snoek en mayonnaise in ’n bak en meng goed saam. Voeg die gebraaide sampioene daarby en geur goed met sout en peper. Meng die meel met die water en roer tot glad. Plaas ’n reghoekige strook samoesadeeg op ’n werkoppervlak. Skep ’n bietjie vulsel op die driehoek tweede van links. Vou die boonste hoek van die deeg oor sodat jy ’n gevulde driehoek het. Lig die driehoek met vulsel op en vou dit na regs. Hou so aan tot die hele strook opgevou is. Verf die eindpunt van die deeg met die meel-en-watermengsel en druk stewig vas. Verwarm die sonneblomolie en diepbraai die samoesas daarin tot goudbruin en bros. Dreineer en sit warm voor met mayonnaise.
As jy sukkel om samoesadeeg te kry, kan jy van fillodeegvelle gebruik maak, wat ook ’n gesonder opsie is. Maar dan moet jy die samoesas by 220 °C bak op ’n bakplaat wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is.