Saffraankoejawels met soetwynvla

Foto: Donna Lewis


Dié kombinasie van saffraan en koejawels sal jou nuwe Sondaggunsteling word.

Genoeg vir 8

800 g (1 liter) suiker
1 liter water
2 knippies saffraan
18 koejawels, geskil en gehalveer

Soetwynvla
8 eiergele
250 ml soetwyn
50 g (60 ml) strooisuiker

Plaas die suiker, water en saffraan in ’n groot pot. Bring tot kookpunt terwyl jy roer tot die suiker opgelos is. Laat dan 10–15 minute kook of tot die stroop ’n diep oranjekleur van die saffraan kry. Voeg die koejawels by en skakel die stoofplaat af. Maak die pot toe en laat staan tot die stroop heeltemal afgekoel het. Jy kan die koejawels met stroop en al tot ’n week lank in die yskas hou.

Soetwynvla: Meng die eiergele, wyn en suiker in ’n groot glasbak. Plaas die bak op ’n pot kokende water – die water moenie aan die boom van die bak raak nie – en klits die mengsel met ’n elektriese handklkitser tot dik skuimvlae vorm. Hou aan klits tot die mengsel warm voel wanneer jy jou vinger daarin druk, sowat 8–12 min- ute. Moenie die mengsel te warm laat word nie, anders sal dit skif. Tel die bak van die pot af en hou aan klits tot die mengsel heeltemal afgekoel het. Skep die koejawels in ’n opdienbak, gooi die warm vla daaroor en sit voor.