Foto: Donna Lewis
In die winter raak my hart gou sag as ek ’n bakkie van dié hemel kan eet. Dis gelaai met vet, maar ek sus my gewete so bietjie deur dit voor te sit met vars bessies.
Genoeg vir 6 persone
40 g (45 ml) botter 250 ml arborio-rys
1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap
625 ml volroommelk
65 g (80 ml) suiker
2 eiergele
1 x 100 g-plak witsjokolade, fyngekap
175 g bessies van jou keuse donker sjokolade, grofgerasper
Verhit die botter in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die rys en vanieljesaadjies by en roerbraai 1 minuut. Voeg die melk en suiker by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat 20–25 minute prut of tot die rys sag en gaar is. Roer elke 2 minute met ’n houtlepel. Verwyder van die hitte en voeg die eiergele en sjokolade by. Roer tot die sjokolade gesmelt het. Sit voor met vars bessies en donkersjokoladeskaafsels in mooi klein bakkies.
WENK: Vir afwisseling kan jy die vanielje met lemoenskil of selfs rooswater vervang.