Roosterkoeke met korrelkonfyt

Foto: Michael le Grange


Brood wat van die kole kom, is mos bróód! Jy kan selfs sowat 200 g fyn biltong by die deeg inmeng vir ekstra smaak.

Genoeg vir 6-8 persone

KORRELKONFYT
500 g druiwekorrels
500 g suiker

ROOSTERKOEKE
600 ml louwarm water
10 g sout
1 x 10 g-sakkie kitsgis
20 ml heuning of suiker 45 ml olyfolie
1 kg koekmeel
botter, vir voorsit

Kook eers jou konfyt: plaas druiwekorrels en suiker in middelslag-pot en bring tot kookpunt oor lae hitte. Roer nou en dan. Kook 20–25 minute of tot konfyt vorm. Skep in skoon glasvlesse, seël en laat onderstebo afkoel.

Roosterkoeke Plaas water, sout, gis, heuning of suiker en olie in mediumgroot mengbak en meng goed. Voeg meel geleidelik by terwyl jy met ’n houtlepel roer totdat ’n stywe, kniebare deeg vorm. Voeg ekstra meel by as deeg te nat is. Knie sowat 10 minute op ’n meelbestrooide werkvlak tot ’n gladde, elastiese deeg. Plaas in bak wat gesmeer is met olie en bedek met kleefplastiek. Laat rus op ’n warm plek tot dubbel die volume, sowat 30–45 minute. Kry intussen die kole reg. Dit moenie te warm wees nie – jy moet jou hand sowat 20 sekondes bo die kole kan hou. Verdeel deeg in growwe stukke van sowat 100 g of groter. Druk effens plat en laat weer vir 10 minute rys op ’n meelbestrooide bord. Braai stadig oor warm kole tot goudbruin en gaar, sowat 8 minute aan ’n kant. Sit warm voor met botter en korrelkonfyt.