Foto: Michael le Grange
Dié weergawe met sjokolade en rooi- fluweelkoek is heerlik! Die kroon is die wolk van kondensmelkroom bo-op.
Genoeg vir 6 persone
80 g-pakkie framboosjellie
400 g vars frambose
125 ml melk
300 g donkersjokolade, fyngekap
2 rooi fluweelsponskoeke
100 ml sjerrie (opsioneel)
500 ml vanieljevla
350 ml room
100 ml kondensmelk
versiersuiker vir oorsif
vars bessies vir voorsit
Maak jellie volgens aanwysings op pakkie aan. Gooi in trifle-bak van jou keuse. Voeg frambose by en meng deur. Laat vir 2 uur in yskas stol. Bring melk tot kookpunt en voeg donkersjokolade by. Haal van hitte af en roer tot sjokolade gesmelt is – as jy sukkel, verhit vinnig weer terwyl jy roer. Plaas eerste sponskoek bo-op gestolde jellie. Sprinkel helfte van sjerrie oor (opsioneel). Skep van die donkersjokolademengsel
oor sponskoek en plaas in yskas vir 30–40 minute. Skep vla oor sjokoladelaag en smeer gelyk. Plaas tweede koeklaag bo-op vla en sprinkel res van sjerrie oor. Klits room tot sagte punte vorm en voeg kondensmelk by. Klits tot stywe punte vorm. Skep kondensmelkroom bo-op laaste koeklaag. Sif versiersuiker oor en sit voor met vars bessies, soos frambose.