Foto: Donna Lewis
Ek het altyd koeskoes in my kas vir ’n noodgeval. Dié dis is gebore uit my liefde vir room. Ek wou sien wat gebeur as ek koeskoes in room gaarmaak – die resultaat was kortpad-risotto!
Genoeg vir 6 persone
1 groot botterskorsie, in kwarte gesny en pitte verwyder
45 ml olyfolie
6 takkies tiemie, fyngekap
Risotto
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
125 ml witwyn
250 ml groente-aftreksel
1 x 250 ml-houer room
100 g (250 ml) bevrore ertjies
30 g parmesaan, fyngerasper
180 g (250 ml) koeskoes
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die oond tot 220 °C. Plaas die botterskorsie in ’n oondroosterbak en sprinkel die olyfolie en tiemie daaroor. Plaas in die warm oond en rooster 15–20 minute of tot sag en gaar. Terwyl die botterskorsie rooster, maak die risotto: Verhit die olyfolie in ’n middelslagpan tot goed warm. Voeg die ui en knoffel by en roerbraai 3 minute. Voeg die witwyn, aftreksel, room en ertjies by. Bring tot kookpunt en laat prut tot dit met ’n derde verminder het. Verwyder van die hitte en roer die parmesaan by. Plaas die koeskoes in ’n groot glasbak en gooi die warm roommengsel daaroor. Maak die bak met kleefplastiek toe en laat 5 minute staan. Roer met ’n vurk. Geur goed met sout en swartpeper. Sit voor met die geroosterde botterskorsie.
WENK: Sodra die koeskoes gaar is en gereed is om voorgesit te word, kan jy nog ’n klein bietjie warm room byroer om dit, soos ’n risotto moet wees, ekstra romerig te maak.