Gebakte ricotta met steurgarnale

Foto: Donna Lewis


Ricotta is ’n goedkoop kaas wat laag in vet is. Gee dit smaak en geur met bymengsels. Dié voorgereg is amper soos ’n kortpad-souttert.

Genoeg vir 6 persone

1 klein ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 x 250 g-pakkie spek, fyngekap
250 g ricotta
1 hand vol vars pietersielie, fyngekap
2 rooi brandrissies, fyngekap
1 eier
sout en varsgemaalde swartpeper

Steurgarnale
45 ml olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngekap sap en skil van 1 suurlemoen
24 steurgarnale, doppe verwyder en skoongemaak

Verhit die oond tot 220 °C. Plaas die eerste sewe bestanddele in ’n voedsel- verwerker en pols dit teen ’n hoë spoed tot ’n gladde mengsel. Geur goed met sout en peper. Skep die mengsel in
’n oondvaste bakkie met ’n volume van 500 ml. Bak 20–25 minute of tot goudbruin en gestol. Terwyl die ricotta bak, berei die steurgarnale só: Verhit die olyfolie in ’n middelslagpan tot goed warm. Voeg die knoffel en suurlemoensap en -skil by. Voeg die garnale by en braai 4–6 minute of tot goudbruin en gaar. Geur goed met sout en peper. Sit voor bo-op die gebakte ricotta.

WENK: ’n Pottebakker het my eenkeer vertel dat porselein keramiese materiaal is wat gebak word teen temperature van hoër as 1 000 °C. Jy kan dus byna enige porselein- bak in die oond sit, want ons huishoudelike oonde kan nie warmer as 240 °C word nie.