Foto: Donna Lewis
In sy eenvoud is preie een van die mooiste groente wat ek ken (ek weet ek sê dit eintlik van elke groente, maar regtig, preie is pragtig). Ek rangskik dit gereeld met wortels en al in groot glaspotte en sit dit pleks van blomme op my tafel. Hierdie gestoofde preie is ’n heerlike bykos by enige ete, en mens kan dit koud of warm geniet.
Genoeg vir 6
8 preie
45 ml olyfolie
10 ml koljandersaad
3 takkies vars tiemie
2 lourierblare
125 ml witwyn
2 knoffelhuisies, fyngekap
120 g ertjies (vars of bevrore)
100 g groen olywe, ontpit
1 hand vol pietersielie, grofgekap
sout en varsgemaalde swartpeper
50 g parmesaankaas, fyngerasper
Halveer die preie met ’n skerp mes. Verhit ’n riffelpan tot baie warm – die rook moet letterlik daaruit begin trek. Borsel die gesnyde kante van die preie met ’n klein bietjie olyfolie, plaas op die panriffels en braai 2–3 minute of tot skroeimerke verskyn.
Verwarm die res van die olyfolie in ’n ander groot pan, voeg die koljander, tiemie en lourierblare by en roer- braai 1 minuut. Voeg die witwyn en knoffel by. Bring tot kookpunt, voeg die preie en ertjies by, sit ’n deksel op die pan, verlaag die hitte en laat 10 minute stowe of tot die preie sag maar steeds ferm is. Verwyder van die hitte en voeg die olywe en pietersielie by.
Geur goed met sout en peper en sit voor met parmesaankaas.