Foto: Michael le Grange
Die Franse noem dié tegniek bo-op die poffers craquelin.
Maak 24 offers
BROS BOLAAG
55 g (60 ml) sagte botter
65 g (80 ml) ligte bruinsuiker
65 g (115 ml) koekmeel, plus ekstra vir uitrol
5 ml pienk voedselkleursel
POFFERS
250 ml water
100 g botter
2 ml sout
140 g (250 ml) koekmeel
4 eiers
1 liter vanieljeroomys
130 g (250 ml) versiersuiker
60 ml suurlemoensap
Verhit oond tot 180 ̊C.
Bolaag Meng bestanddele vir bolaag saam tot sagte koekiedeeg. Rol tussen twee lae bakpapier uit tot sowat 2 mm dik. Plaas in yskas.
Poffers Plaas water en botter in ’n middelslag-pot. Bring tot kookpunt met deksel op. Voeg sout en meel op een slag by en roer met ’n houtlepel tot die mengsel in ’n bal bymekaarkom. Roer vir nog 3 minute. Haal van hitte af en laat sowat 10 minute afkoel. Voeg eiers een-een by. Meng elke keer goed. Voer bakplaat met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei. Skep teelepels vol beslag op voorbereide bakplaat. Gebruik ronde koekiedrukker met 2 cm deursnee om sirkels uit koue koekiedeeg te sny. Plaas ’n deegsirkel bo-op elke poffer. Bak 25–35 minute of tot goudbruin en gaar. Laat afkoel. Sny bokante van poffers af en pak onderkante in kransvorm op opdienbord. Skep ’n bal roomys in elke holte en plaas bokant van poffer bo-op. Meng versiersuiker en suurlemoensap. Skep oor poffers en sit voor.