Foto: Donna Lewis
Die Engelse noem dié een ’n spatchcock. Die hoendertjies word vinnig gaar en lyk tog te deftig op enige tafel. As jy nie sulke hoenders kan kry nie, kan jy een groot hoender gaarmaak. Onthou net, dit neem so ’n bietjie langer.
Genoeg vir 6 persone
6 baba-hoenders
2 uie, grofgekap
4 knoffelhuisies, fyngekap
2 hande vol vars kruie (tiemie, roosmaryn en origanum)
80 ml korrelmosterd
sout en varsgemaalde swartpeper
250 ml witwyn
250 ml hoenderaftreksel
Verhit die oond tot 200 °C. Gebruik ’n kombuisskêr en knip die rugbeen van die hoenders uit. Druk elke hoender met jou handpalm op ’n houtbord plat. Gooi die uie en knoffel in ’n oondroosterpan. Plaas die kruie bo-op. Sit die plat hoenders bo- op die kruie. Smeer elke hoender met ’n bietjie korrelmosterd en geur goed met sout en peper. Gooi die wyn en aftreksel oor. Bedek die pan met tinfoelie en rooster toe, sowat 15–20 minute. Verwyder die tinfoelie en rooster nog 10 minute of tot goudbruin. Sit voor.
WENK: Jy kan die hoenders ekstra woema gee met gekapte rooi brandrissies. Meng dit met die korrelmosterd en smeer bo-oor die hoenders.