Herman Lensing
Ek maak graag plathoender – dit word vinniger gaar en is maklik om in porsies te sny.
Genoeg vir 6
500 g baba-aartappels, gehalveer
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekap
240 g-sakkie songedroogde tamaties in olie
250 ml room
1 hand vol vars pietersielie
1 groot hoender
olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper
Plaas aartappels in ’n pot met koue water en bring tot kookpunt op die stoof. Kook 10 minute of tot halfgaar. Verhit lugbraaier tot 180°C op air-fry-funksie. Plaas uie, knoffel, tamaties met olie, room en pietersielie in voedselverwerker en pols teen hoë spoed tot gladde puree. Voeg 250 ml water by en meng deur. Gebruik ’n kombuisskêr en knip rugbeen van hoender los. Draai hoender om en druk dit plat metjou handpalms. Plaas met velkant na bo in lugbraaiermandjie en pak gekookte aartappels rondom. Sprinkel ’n goeie skeut olyfolie oor aartappels. Giet tamatiepuree oor hoender en aartappels en geur goed met sout en peper. Lugbraai 30-35 minute of tot hoender sag en gaar is. Sit voor.