Bros platbrood

Foto: Donna Lewis


Ek het ’n baie sagte plekkie in my hart vir brood. Warm uit die oond kan dit die wêreld se probleme oplos! Ek bak dié broodjies oor die agterkant van metaalbakkies sodat dit die vorm van die bakkies aanneem. Dis doodmaklik om te maak, maar lyk baie indrukwekkend. Jy eet eintlik jou bord!

Genoeg vir 2 persone

150 ml water
45 ml olyfolie
280 g (500 ml) koekmeel
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 125 g-bakkie basiliekruidpesto
1 x 240 g-bakkie hoemoes

Verhit die oond tot 220 °C. Plaas die water en olyfolie in die bak van ’n elektriese menger. Voeg die meel geleidelik by en klits teen ’n medium spoed met die K-deeghaak (K-beater whisk) tot ’n stywe, kniebare deeg. Knie dit dan sowat 5 minute tot glad en elasties. Laat 10 minute rus. Strooi ’n dun lagie meel op jou werkoppervlak. Verdeel die deeg in twee balle en rol elk sowat 5 mm dik uit – dit hoef nie ’n presiese vorm te hê nie. Keer twee oondvaste bakkies op ’n bakplaat om en spuit hulle goed met kleefwerende kossproei. Plaas die deeg bo-oor die bakkies en geur goed met sout en peper. Bak 5–8 minute of tot goudbruin en bros. Laat afkoel tot louwarm. Verdeel die basiliekruidpesto en hoemoes tussen die broodbakkies en sit voor.

WENK: Die resep is reg. Dis nie ’n tikfout nie, daar is geen gis in die resep nie. Jy kan dit gebruik as basis vir baie ander resepte. As jy byvoorbeeld hou van pizza met ’n baie dun basis en wat so ’n klein bietjie gesonder is, kan jy dié deeg daarvoor gebruik.