Foto: Donna Lewis
Om enige vleismarinade liplekker te maak, voeg suiker daarby, want dit karamalliseer tydens die gaarmaak- proses en gee aan die vleis so ’n lekker goue, bros kors. Jy kan die appelsap in die resep met appelwyn (sider) of selfs lemoensap vervang. Ek braai die hoender graag oor warm kole tot goudbruin en gaar, maar mens kan dit ook in die oond onder die roosterelement doen.
Genoeg vir 6
500 ml appelsap
250 ml hoender-aftreksel
125 ml sojasous
1 stingel suurlemoen gras
2 knoffelhuisies, gekap
2 lourierblare
1 groot hoender
4 uie, in ringe gesny
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die oond tot 180 °C. Plaas die appelsap, aftreksel, sojasous, suurlemoengras, knoffel en lourierblare in ’n groot pot en bring dit oor hoë hitte tot kookpunt. Kook 10 minute, verwyder van die hitte en hou eenkant. Knip die rugbeen van die hoender met ’n kombuisskêr uit en druk die hoender met jou handpalm plat – in Engels noem hulle dié metode spatchcocking. Rangskik die uieringe in ’n groot oondroosterbak en plaas die hoender met die borskant na bo daarop. Gooi die mar- inade oor en geur die hoender baie goed met sout en peper. Maak die bak met tinfoelie toe en plaas dit in die warm oond. Bak 25 minute of tot halfgaar. Kry jou vuur intussen reg en sorg dat die kole medi- umwarm is. Verwyder die hoender uit die oond, plaas dit in ’n toeklaprooster en braai dit stadig oor die kole. Draai die rooster elke 5 minute om en smeer ’n bietjie marinade telkens oor die vleis. Braai tot die hoender goudbruin en gaar is.