Foto: Donna Lewis
Dié Franse kosjuweel wat tradisioneel met appels gemaak word, was glo eintlik ’n flop, maar ek is dankbaar vir die flop, want dit smaak fantasties! Jy kan dit metenige ander vrugte maak. Perskes werk byvoorbeeld besonder goed, en bessies lyk baie mooi.
Genoeg vir 6 persone
55 g (60 ml) botter
65 g (80 ml) bruinsuiker
60 ml gouestroop
1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap
2 x 410 g-blikke peerhelftes, gedreineer
1 x 100 g-pakkie pekanneute, grofgekap
1 x 400 g-rol blaardeeg, oornag in jou yskas ontdooi
1 x 250 ml-houer crème fraîche vir voorsit
Verhit die oond tot 200 °C. Verhit ’n 30 cm-braaipan wat in die oond kan gaan oor medium hitte tot goed warm. Gooi die botter, suiker en stroop daarin. Roer dit met ’n houtlepel tot ’n goue karamelsous vorm. Voeg die vanieljesaadjies en -peul by. Plaas die peerhelftes met die gesnyde kant na onder in die karamelsous. Laat 5 minute stadig braai. Verwyder van die hitte en gooi die neute oor. Plaas die blaardeeg bo- op die pere en sny ekstra deeg wat oorhang netjies af. Plaas in die warm oond en bak 20–25 minute of tot goudbruin en bros. Keer uit op ’n opdienbord en sit voor met crème fraîche.
WENK: Om die tert uit te keer moet jy baie vinnig werk. Plaas ’n groot bord bo-op die tert en keer dit saam met die pan in een vinnige beweging om. Lig die pan af en sit voor.