Peer-en-sjokoladetert

Foto: Donna Lewis


Die kombinasie van peer en sjokolade is ongelooflik lekker. Die eerste keer dat ek dit teëgekom het, was in ’n bakkery in Parys, Frankryk. Die soet van die heuning in die vulsel maak die bitter van die sjokolade baie lekker. Vir ’n afshow-nagereg, sit die tert louwarm voor met dik room.

Genoeg vir 8-10

280 g (500 ml) koekmeel
155 g botter
50 g (60 ml) strooisuiker
45 ml water
5 ml vanieljegeursel

Vulsel
140 g (150 ml) botter
200 g 70%-sjokolade
30 g (60 ml) kakao, gesif
2 ml sout
210 g (250 ml) strooisuiker
60 ml heuning
50 ml room
4 eiers
6 pere, geskil, ontklok en gehalveer

Verhit die oond tot 160 °C. Sit die meel, botter en suiker in ’n voedselverwerker en meng dit tot die tekstuur van growwe broodkrummels. Voeg die water en geursel by en meng tot die deeg bind. Draai dit dan in kleefplastiek toe en sit in die yskas vir 20 minute. Rol die koue deeg sowat 3 mm dik op ’n meelbes- trooide oppervlak uit en voer ’n 20 x 12 cm-broodpan wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is daar- mee uit. Laat 20 minute in die yskas rus. Prik die deeg met ’n vurk, bak 10 minute blind of tot dit begin verkleur en verwyder die bakpapier (sien wenk). Bak die kors dan sowat 10 minute tot goudbruin. Haal uit die oond en laat afkoel.

Vulsel: Verlaag die oondtemperatuur tot 150 °C. Mikrogolf die botter en sjokolade ’n paar minute op medium, en roer dit gereeld. Laat afkoel tot louwarm en voeg die kakao, sout, suiker, heuning en room by. Meng goed met ’n draadklitser en klop die eiers dan een vir een by. Meng tot ’n gladde mengsel en gooi in die gebakte kors. Pak die peerhalwes bo-op die vulsel en bak tot net gestol, sowat 25–30 minute – dit moenie heeltemal gaar wees nie, want dit stol verder soos dit afkoel. Verkil in die yskas, keer uit en sit voor.

WENK: Sit die tert voor met ’n fudge-sous wat jy só maak: Plaas 300 g gekapte fudge en 125 ml room in ’n kastrol en roerprut dit oor matige hitte tot die fudge gesmelt het. Laat effens afkoel en sit voor.

Blindbak beteken om ’n tertdop vooraf sonder ’n vulsel te bak. Prik die boom, plaas bakpapier oor die deeg en strooi droë boontjies of rou rys daaro- or. Bak sowat 10 minute en verwyder die papier met boontjies of rys. Gooi die bone of rys weg, of hou dit om weer mee te blindbak.