Foto: Donna Lewis
My ma was glad nie bang om kanse in die kombuis te waag en geure saam te gooi nie. Sy het my eendag met groot opgewondenheid gebel ná sy besluit het om anys by haar soetpatas te sit. “Herman, jy moet dit probeer; dit smaak ongelooflik!” Ek het dit met groot huiwering gedoen en glo my, die geur is hemels.
Genoeg vir 6-8
480 g (500 ml) gaar patats
280 g (500 ml) koekmeel
20 ml bakpoeier
2 eiers
10 ml anyssaad
sout en varsgemaalde swartpeper
sonneblomolie vir diepbraai
100 g kaneelsuiker
Karamelsous
200 g (250 ml) suiker
75 g (80 ml) botter
100 ml water
250 ml room of melk (natuurlik smaak room soveel beter!)
5 ml vanieljegeursel
Druk die patats met ’n aartappeldrukker fyn. Voeg die koekmeel, bakpoeier, eiers en anys by. Meng deeglik met ’n houtlepel en geur goed met sout en peper. Verhit genoeg olie vir diepbraai in ’n groot pot (dit moet ten minste 10 cm hoog wees). Moenie die olie te warm maak nie. Gebruik ’n roomyslepel, doop dit in die warm olie, skep ’n lepel vol beslag daarmee en laat dit in die olie val. Herhaal tot die pot vol is. Plaas die deksel op en laat 5 minute braai. Maak die pot oop en draai die balle om. Bedek weer en herhaal die braaiproses tot die balle goudbruin en gaar is (dit sal sowat 15 minute duur). As die olie te warm raak, draai die plaat af, anders gaan die balle brand voor hulle binne gaar is. Dreineer op handdoekpapier en rol in kaneelsuiker. Sit voor met karamelsous.
Karamelsous: Plaas die suiker, botter en water in ’n middelslagpot. Roer met ’n houtlepel oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Verhoog die hitte en laat vinnig kook tot die mengsel ’n goudbruin karamel vorm, sowat 8–10 minute. Voeg die room of melk en geursel by. Meng saam en bring weer tot kookpunt. Laat afkoel tot lou- warm en gooi oor die poffers.