Foto: Donna Lewis
Winkeldeeg wat jy by die bakkery koopis my beste vriend in die kombuis. Jy kan soos ’n meesterbakker lyk met min moeite! Onthou om dit betyds by jou supermark se bakkery te bestel.
Genoeg vir 12 stokkies
140 g (250 ml) koekmeel vir uitrol
500 g-sakkie winkeldeeg
100 g parmesaan, fyngerasper
45 ml olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die oond tot 220 °C. Sprinkel ’n dun lagie koekmeel op jou werkoppervlak en keer die deeg daarop uit. Druk dit met jou handpalms plat tot sowat 1 cm dik. Sprinkel die parmesaankaas oor die helfte van die deeg. Vou die ander helfte bo-oor en druk stewig vas. Sny die gevoude deeg in repe van 1 cm breed. Rol die deegrepe op die werkoppervlak tot lang, dun brood- stokkies uit. Plaas op ’n bakplaat wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is. Sprinkel olyfolie oor en geur goed met sout en peper. Bak 10–12 minute of tot goudbruin en bros. Sit voor.
WENK: Gee die brood ekstra stamina deur ontpitte groen olywe of fyngekapte sondroëtamaties saam met die parmesaan in die deeg in te vou. Selfs feta wat fyngekrummel is, werk lekker.