Foto: Donna Lewis
Dié Italiaanse broodslaai word gemaak van gister se brood. Tradisioneel is die brood geweek in ’n asynsous om dit nuwe lewe te gee. Ek rooster die brood tot goudbruin in ’n warm pan met lepels vol botter.
Genoeg vir 6 persone
45 ml olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngekap
400 g kersietamaties
55 g (60 ml) botter
1 x 390 g-suurdeegbrood, in growwe stukke gebreek
1 x 80 g-pak slaaiblare van jou keuse
1 hand vol vars basiliekruid
150 g sagte mozzarella
1 x 125 g-houer basiliekruidpesto sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die olyfolie in ’n middelslag-braaipan tot goed warm. Voeg die knoffel en tamaties by. Braai sowat 5–6 minute of tot die tamaties oopbars. Skep uit die pan en hou eenkant. Smelt en verwarm die botter in dieselfde pan, voeg die broodstukke daarby en braai sowat 2–3 minute of tot goudbruin en bros. Plaas die slaaiblare en basiliekruid in ’n groot slaaibak. Krummel die broodstukke daaroor en skep die tamaties oor. Breek die mozzarellakaas in groot stukke en gooi dit by die slaai. Skep basiliekruidpesto oor. Geur goed met sout en peper. Sit voor.
WENK: Sondroëtamaties wat jy in olie koop, werk net so lekker vir dié slaai. Gebruik sommer die olie waarin die tamaties verpak is as slaaisous.