My pa se pannekoek opgetof

Foto: Donna Lewis


My pa was die pannekoekbakker in ons huis. Hy het dit altyd baie presies en met groot sorg gebak, papierdun pannekoeke waarop selfs die Franse jaloers sal wees. Hier is sy resep metmy bietjie flair!

Genoeg vir 6 persone

500 ml melk
3 eiers
45 ml witasyn
135 g (160 ml) strooisuiker
5 ml neutmuskaat
210 g (375 ml) koekmeel
100 g fudge, grofgebreek
1 x 360 g-blik karamelkondensmelk
125 ml room
175 g bessies van jou keuse

Plaas die melk, eiers, asyn, suiker en neut in ’n groot mengbak. Klits met ’n draadklitser tot goed gemeng. Sif die meel by en klits goed tot ’n gladde beslag. Laat rus eenkant terwyl jy die fudgesous maak: Plaas die fudge, kondensmelk en room in ’n middelslagpot. Roer oor lae hitte tot ’n gladde sous. Hou eenkant. Verhit ’n 30 cm-kleefvrye braaipan tot goed warm. Spuit die pan met kleefwerende kossproei. Bedek die boom van die pan met ’n bietjie pannekoekbeslag. Braai 30 sekondes en draai om. Braai die ander kant tot goudbruin. Keer uit op ’n skoon bord (sien wenk). Herhaal tot al die beslag opgebruik is. Rol die pannekoeke op en plaas op ’n opdienbord. Gooi karamelsous oor en sit voor met bessies.

WENK: Hou pannekoek só warm: Plaas ’n bord op ’n pot water wat stadig prut. Plaas ’n gaar pannekoek op die bord en plaas ’n tweede bord onderstebo daarop.