Pampoen-en-appelsop

Foto: Donna Lewis


Terwyl ek studeer het om ’n sjef te word, het een student, Leander Jewell, dié sop in haar finale eksamen gemaak. Ek het jare laas iets van haar gehoor, maar die sop sit nog steeds in my smaakbiblioteek vas. Appel en pampoen is hemels saam.

Genoeg vir 6 persone

45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
500 g pampoen, geskil en in stukke gesny
1 stuk duimnaelgrootte vars gemmer, fyngerasper
1 rooi brandrissie, fyngekap
1 kaneelstokkie
500 ml hoenderaftreksel
2 groenappels, fyngerasper
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 250 ml-houer crème fraîche

Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die ui en knoffel by. Roerbraai sowat 2–3 minute of tot dit begin verkleur. Voeg die pampoen, gemmer, rissie en kaneel by en braai nog 3 minute. Voeg die aftreksel en appels by en laat kook tot die pampoen sag en gaar is, sowat 10–15 minute. Geur goed met sout en peper. Haal die kaneelstokkie uit. Puree die sop teen ’n hoë spoed in ’n elektriese voedselverwerker. Sit voor in sopbakkies met crème fraîche.

WENK: Jy kan die sop garneer met croutons of appeltjips wat jy só maak: Sny 4 appels in papierdun skywe met ’n skerp mes. Plaas dit op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Strooi ’n bietjie droë rissiepoeier oor en laat in ’n warm oond uitdroog.