Foto: Michael le Grange
Vir my is geen Kersete ooit volmaak as daar nie pampoenpoffers op die tafel is nie. Ek maak hom nes my ma dit gedoen het.
Genoeg vir 12 poffers
480 g (500 ml) gaar pampoen
280 g (500 ml) koekmeel
20 ml bakpoeier
2 eiers
10 ml anyssaad
sout en varsgemaalde swartpeper
sonneblomolie vir diepbraai
100 g kaneelsuiker
KARAMELSOUS
200 g (250 ml) suiker
75 g (80 ml) botter
100 ml water
250 ml room
Gebruik ’n aartappeldrukker om die pampoen fyn te druk. Voeg koekmeel, bakpoeier, eiers en anyssaad by. Meng deeglik met houtlepel en geur goed met sout en peper. Verhit olie vir diepbraai in groot pot – die olie moet minstens 10 cm diep wees. Moenie olie te warm maak nie. Gebruik ’n roomyslepel, doop dit in die warm olie en skep ’n lepel vol pampoenbeslag. Laat dit uit die roomyslepel in die olie val. Hou aan tot die pot se oppervlak vol is. Plaas deksel op pot en braai 5 minute. Maak pot oop en draai balle om. Plaas deksel weer op pot. Herhaal tot al die poffers goudbruin en gaar is, sowat 15 minute. Verlaag die hitte as die olie te warm raak, anders gaan die poffers brand voor die binnekant gaar is. Dreineer op kombuispapier en rol in kaneelsuiker.
KARAMELSOUS Bring suiker, botter en water in middelslag-pot tot kookpunt en roer met houtlepel oor lae hitte tot suiker gesmelt het. Verhoog hitte en kook tot goue karamel vorm, 8–10 minute. Voeg room by. Meng en bring weer tot kookpunt. Laat sous tot louwarm afkoel en gooi oor poffers. Sit voor.