Foto: Donna Lewis
Die Britte maak roosterbrood toegedraai in spek, wat hulle soldiers noem. Hier is my ma se meer gesonde weergawe, wat jou groente laat inkry nog voor die dag behoorlik begin het. Ek hou nie van sagte eiers nie – kook die eiers soos jy dit verkies.
Genoeg vir 6 persone
200 g aspersies
1 x 250 g-pakkie strepiespek
45 ml olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper
12 eiers
Verhit die oond tot 220 °C. Draai elke aspersie se onderkant toe met 1 repie strepiespek. Pak hulle op ’n bakplaat en
sprinkel olyfolie oor. Geur goed met sout en swartpeper. Plaas in die warm oond en bak 8–12 minute of tot die spek bros is. Terwyl die aspersies bak, kook die eiers só: Bring ’n pot water tot kookpunt en plaas die eiers versigtig daarin. Kook 5 minute vir sagte eiers, of langer as jy verkies. Haal uit die water en plaas in eierkelkies. Sit voor met spek-aspersies.
WENK: Die ou mense glo jy moet so ’n lepel of twee witasyn in die water gooi waarin jy die eiers gaan kook. Dit help glo om die doppe makliker af te skil wanneer die eiers gaar is. Ek weet nie of dit waar is nie, maar dit werk vir my!