Nicoise-slaai my manier

Foto: Donna Lewis


Tradisioneel word dié slaai met vars tuna gemaak, maar deesdae is tuna baie duur en baie skaars. Maak my weergawe met goeiegehalte- tuna uit ’n blik. Koop altyd die soort wat in groot stukke in water is.

Genoeg vir 6 persone

4 eiers
30 g kappertjiesaad
3 knoffelhuisies, gekap
1 hand vol vars pietersielie, gekap
60 ml olyfolie
sap en skil van 3 suurlemoene
100 g slaaiblare van jou keuse
500 g groenbone, in kookwater gedompel
500 g baba-aartappels, gaar gekook
1 ui, in dun ringe gesny
400 g tuna, gedreineer
sout en varsgemaalde swartpeper

Bring ’n pot water tot kookpunt. Sit die eiers heel in die water en kook 5 minute vir sag, of langer as jy verkies. Dop die eiers af. Meng die kappertjiesaad, knoffel, pietersielie, olyfolie en suurlemoensap en -skil vir ’n slaaisous. Plaas die slaaiblare in ’n slaaibak, gevolg deur die groenbone. Halveer die aartappels en plaas bo-op die slaai. Strooi die uieringe en tunastukke oor. Halveer die eiers en pak op die slaai. Gooi die slaaisous oor. Geur met sout en swartpeper en sit voor.

WENK: Natuurlik sal vars tuna koning kraai in dié slaai! As jy dit in die hande kan kry, maak só: Verhit ’n braaipan tot baie warm. Smeer die tunasteak met ’n klein bietjie olyfolie. Plaas dit vir letterlik 20 sekondes per kant in die warm pan. Jy wil die tuna net seël. Laat 5 minute rus en sny dan in dun skywe met ’n skerp mes.