Foto: Donna Lewis
Sondag-nagereg in my grootwordhuis was altyd geblikte vrugte met vla. Ek kon nooit genoeg daarvan kry nie. Hier is my weergawe van geblikte vrugte – sonder die blik!
Genoeg vir 6 persone
200 g (250 ml) suiker
375 ml water
1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap
4 pere, geskil en ontklok
1 liter vanieljeroomys
Plaas die suiker, water, vanieljesaadjies en oopgesnyde peul in ’n middelslagpot. Bring tot kookpunt. Plaas die geskilde pere in die suikerstroop en bedek met ’n stukkie bakpapier – plaas dit direk op die vloeistof. Laat sowat 8–10 minute posjeer of tot sag maar steeds ferm. Laat afkoel in die stroop. Plaas in mooi glase of poedingbakkies. Skep balle roomys bo-op en sit voor.
WENK: Moet nooit die peul waaruit jy die vanieljesaadjies gekrap het, weggooi nie. Daar is nog baie smaak en geur in die dop. As jy dit nie saam met die mengsel kook soos in dié resep nie, druk dit sommer in jou suikerhouer. Los dit ’n week of twee daarin en maak só jou eie vanieljesuiker.