Foto: Donna Lewis
Die eerste keer wat ek mossels geëet het wat in iets anders as witwyn gestoom is, was in Londen by ’n klein pub naby Buckingham-paleis. Hier is my weergawe van dié hemelse dis.
Genoeg vir 6 persone
45 ml olyfolie
1 ui, in skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 stuk duimnaelgrootte vars gemmer, fyngerasper
2 brandrissies, fyngekap
4 sprietuie, fyngekap
25 ml droë sjerrie
25 ml ligte sojasous
30 ml donker sojasous
1 kg swartmossels
1 hand vol vars koljander, fyngekap
Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die ui, knoffel, gemmer, rissies en sprietuie by. Roerbraai 3–5 minute of tot die ui begin verbruin. Voeg die sjerrie en sojasous by. Bring tot kookpunt en voeg die mossels by. Meng deur met ’n houtlepel en plaas die deksel op die pot. Laat 5–8 minute stoom of tot die mosseldoppe oopgaan. Verwyder die mossels wat nie oopgegaan het nie en gooi weg. Roer koljander deur en sit voor.
WENK: Geen sout en peper in die resep nie? Ja, dis reg. Sojasous is baie sout en gee genoeg geur aan die kos. As jy jou soutinname wil beperk of dalk dophou, soek sojasous met ’n etiket waarop low sodium staan.