Moet-maak-salsas

Foto: Donna Lewis


Maak sommer lekker baie van die salsas. Sit dit voor in klein bakkies op gebreekte ys. Jou gaste sal dink jy is baie fênsie!

Genoeg vir 6 persone

AVOKADO
3 avokado’s, geskil en ontpit
1 ui, grofgekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 rooi brandrissies, fyngekap
sap en skil van 1 suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en puree dit teen ’n hoë spoed tot ’n gladde, romerige mengsel. Geur goed met sout en swartpeper. Sit voor.

GEPEKELDE RADYSE
250 ml witwynasyn
6 swartpeperkorrels
2 rooi brandrissies, fyngekap
65 g (80 ml) suiker
12 radyse, in dun skywe gesny

Bring die asyn, peperkorrels, brandrissies en suiker tot kookpunt. Plaas die radyse in ’n klein glasbakkie en gooi die warm asynmengsel daaroor. Laat afkoel tot kamertemperatuur en sit voor.

TAMATIE EN KOLJANDER
400 g kersietamaties, in kwarte gesny
1 rooiui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 groen brandrissie, fyngekap
1 hand vol vars koljander, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper

Meng al die bestanddele saam en geur goed met sout en peper. Sit voor.