13 Oktober 2017 | Foto: Donna Lewis
Herman onthou ...
Waar begin ek met hierdie koek? Vra jy enigiemand wat is die een ding waarvoor hulle my ma sal onthou, gaan die antwoord ongetwyfeld wees “tannie Susan se miljoenêrskoek”. Hierdie koek het betaal vir my studies, vir my vakansies, vir my kar, vir ons huis, vir klere, vir skool ... vir alles. My ma het met dié koek geëksperimenteer tot hy perfek was. Sy het letterlik duisende van hom gebak vir haar tuisbedryf. My pa se werk was om die sjokolade te smelt en sy het dit dan oor die koek geskep. Saam het hulle Upington oorrompel met goeie sjokoladekoek. Nou is jou kans om iemand se lewe mooier te maak met een. My ma sal alte bly wees!
MAAK 1 KOEK
250 ml water
200 g (250 ml) suiker
30 ml brandewyn
4 eiers, geskei
210 g (250 ml) strooisuiker
125 ml sonneblomolie
125 ml warm watera
140 g (250 ml) koekmeel
15 ml bakpoeier
30 ml kakao
’n knippie sout
80 g neutsjokolade, in blokkies gebreek
100 g goeie donkersjokolade, in blokkies gebree
30 ml melk
Maak eers die stroop Sit al die stroopbestanddele in ’n middelslag-pot en bring tot kookpunt. Verwyder van die hitte en laat afkoel.
Koek Verhit die oond tot 180 ºC. Spuit ’n ringkoekpan (Bundt-pan) deeglik met kleefwerende kossproei. Klits die eiergele en suiker goed saam tot lig en romerig. Voeg die olie en water by en klits deeglik. Sif die droë bestanddele saam in ’n groot bak en voeg dit ook by die eiergeelmengsel. Meng tot ’n gladde beslag vorm. Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en vou dit met ’n metaallepel by die beslag in. Skep die beslag in die koekpan en bak vir sowat 30-35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Haal uit die oond, giet die koue stroop oor die warm koek in die pan en laat staan tot afgekoel. Keer uit op ’n dienbord.
Versiersel Sit die sjokolade en melk in ’n middelslag-pot en roer oor lae hitte tot ’n gladde mengsel. Skep dit oor die afgekoelde koek en laat stol vir 10-15 minute. Sit voor.