Foto: Donna Lewis
Wanneer my ma kos gemaak het, het sy nie net die geleentheid in ag geneem nie, maar seker gemaak dat alles wat op die spyskaart is elke gas gelukkig sal maak. Sy het geweet dat daar min dinge op die aarde is wat my pa se hart so gelukkig maak soos warm brood, botter en vyekonfyt. Daarom, wanneer ons op Hartenbos gebraai het, is hierdie mieliebrood gebak in ’n klein konveksie- oond wat sy saamgery het. Die varsgebakte brood is dan baie netjies toegedraai in ’n donkergroen kombuisdoek en gelos om te stoom. Dit het die korsie effens versag, want my ma het geweet ek hou nie van harde korsies nie...
Genoeg vir 6
4 eiers
125 ml melk
45 ml strooisuiker
30 ml olyfolie
250 ml mieliemeel
5 ml bakpoeier
30 ml koekmeel
5 ml sout
1 x 410 g-blik geroomde
suikermielies (sweetcorn)
1 x 410 g-blik pitmielies, gedreineer
Verhit die oond tot 180 C. Klits die eiers, melk, suiker en olie saam en voeg die mieliemeel, bakpoeier, koekmeel en sout by. Roer die suiker- en pitmielies by. Die beslag is baie slap, maar dis reg so. Skep in ’n 14 x 24 cm-broodpan wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is en smeer gelyk bo. Sit in ’n warm oond en bak vir 45 minute tot 1 uur of tot die brood hol klink as jy liggies daaraan klop. Keer uit, draai toe in ’n kombuisdoek en laat afkoel. Sit voor met botter en vyekonfyt.