Marokaanse lamsbredie met mieliekluitjies

Foto: Michael le Grange


In my kinderdae het ons wintervakansies baie tyd in Namibië deurgebring. Potjiekos met kluitjies is gereeld om die kampvuur by Ais-Ais geniet. Ek stof dié resep af en gee hom ’n Herman-kinkel.

Genoeg vir 12

hout of kole vir braai
60 ml olyfolie
4 knoffelhuisies, gekap
1,2 kg kort lamskenkels
500 g baba-uie, geskil
45 ml harissasmeer
30 ml droë roosmaryn
2 x 400 g-blikke kersietamaties
500 ml rooiwyn
sout en varsgemaalde swartpeper

MIELIEKLUITJIES
115 g (125 ml) botter
500 g (890 ml) koekmeel
10 ml bakpoeier
5 ml sout
410 g-blik pitmielies, gedreineer
250 ml koue water

Kry kole matig warm, maar maak sommer ’n groot vuur sodat jy kole kan byskep soos jy aangaan. Verhit olyfolie in ’n driepootgietysterpot – hierdie resep is geskik vir ’n nr. 3- of nr. 4-pot. Voeg knoffel en skenkels by. Braai vinnig tot goudbruin, so 5-8 minute. Voeg uie en harissasmeer by. Braai 5 minute. Voeg roosmaryn by en braai 2 minute. Voeg tamaties en wyn by. Sit deksel op en laat sowat 90 minute stadig prut. Voeg water by indien vloeistof begin wegkook. Geur met sout en peper.
Mieliekluitjies Vryf botter, meel, bakpoeier en sout intussen met jou vingerpunte tot dit soos growwe broodkrummels lyk. Voeg mielies by en meng. Voeg genoeg water by om ’n stywe deeg te vorm. Haal deksel van pot af en skep lepels vol deeg bo-op bredie. Sit deksel weer op en laat stoom sowat 30 minute of tot kluitjies gaar is. Sit voor.

Dié resep kom uit my Braai en Rugby-kookboektydskrif. Bestel dit hier.