Foto: Donna Lewis
Ek kan nooit genoeg van my ouma se malvapoeding kry nie, maar dis regtig baie werk. Maar ek het ’n kortpad gevind! Die geheim is die appelkooskonfyt en sous.
Genoeg vir 6 persone
1 x 600 g-vanielje-bokskoek (ek verkies Ina Paarman s’n)
3 eiers
180 ml sonneblomolie
]250 ml melk
60 ml appelkooskonfyt
Stroop
1 blik ingedampte melk (Ideal Milk)
250 ml warm water
400 g (500 ml) suiker
30 ml botter
5 ml vanieljegeursel
Verhit die oond tot 180 °C. Plaas die bokskoekmengsel, eiers, olie, melk en konfyt in ’n groot mengbak. Roer tot glad met ’n draadklitser. Spuit ’n 30 cm-ringkoekpan met kleefwerende kossproei. Gooi die mengsel daarin en bak 25–30 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Terwyl die koek bak, maak die stroop: Plaas al die bestanddele in ’n middelslagpot en bring tot kookpunt. Gooi bo-oor die koek sodra dit uit die oond kom. Keer uit op ’n opdienbord en sit voor met vanieljevla en -roomys.
WENK: Probeer volgende keer om die poeding met sjokolade- bokskoek te maak. Roer dan so 30 ml kakaopoeier by die stroop in om dit ekstra dekadent te maak.