Foto: Donna Lewis
Ek het geen probleem om koek uit ’n boks of sakkie te gebruik en dan my eie stempel daarop af te druk nie. Geen gas sal tog die verskil agterkom nie!
Genoeg vir 6 persone
1 x 600 g-vanielje-bokskoek van Ina Paarman
3 eiers
180 ml sonneblomolie
250 ml melk
1 x 400 g-blik baba-appels, gedreineer
1 x 380 g-blik ingedampte melk
10 ml vanieljegeursel
100 g (125 ml) bruinsuiker
roomys of crème fraîche vir voorsit
Verhit die oond tot 180 °C. Plaas die koekmengsel, eiers, olie en melk in ’n middelslag-mengbak. Klits met ’n draadklitser tot glad. Spuit ’n tertbak met ’n volume van 2 liter goed met kleefwerende kossproei. Gooi die beslag daarin en pak die baba-appels bo-op. Plaas in die warm oond en bak 20–25 minute of tot goudbruin en gaar. Terwyl die koek bak, maak die sous: Plaas die ingedampte melk, geursel en suiker in ’n middelslagpot. Bring tot kookpunt en gooi oor die tert sodra dit uit die oond kom. Sit warm voor met roomys of crème fraîche.
WENK: Jy kan ook, as jy verkies, die tert in klein individuele bakkies van jou keuse bak. As jy sukkel om baba-appels te kry, kan jy dit met geblikte of vars appels vervang.