Foto: Michael le Grange
Die brosgebraaide maalvleis, wat jy uit boerewors druk, gee dié gereg lekker tekstuur.
Genoeg vir 6
45 ml olyfolie plus ekstra vir braai
500 g boerewors, vleis uitgedruk uit derm
1 knoffelhuisies, fyngekap
15 ml vars gemmer, gerasper
1 rooi brandrissie
60 ml soet sojasous
180 g-sak dun groenbone, fyn gesnipper
250 ml gaar SPEKKO SAMAN BROWN RICE
sout en vars gemaalde swartpeper
6 eiers
Verhit groot skeut olyfolie in groot pot – maak seker die pot is lekker groot sodat die wors gaan bros braai eerder as stoom. Voeg maalvleis, knoffel, gemmer en rissie by warm olie en roerbraai vir 5-8 minute of tot korrels los en bros gebraai is. Hoe brosser hoe beter. Voeg sojasous en groenbone by en meng deur. Verlaag hitte en maak pot toe. Laat stoom vir 3-5 minute of tot groenbone sag en gaar is. Voeg rys by en meng deur. Proe en pas geur aan met sout en peper, maar onthou sojasous is sout. Verhit skeut olyfolie in braaipan tot warm en bak eiers vir 2-3 minute vir sagte eiers of langer soos jy verkies. Plaas gebraaide eiers bo-op rys. Sit voor.