Foto: Donna Lewis
’n Lekker vars, koel pastagereg. As jy vleis in dié een mis, kan jy altyd gebraaide hoenderstukkies of chorizo-wors byvoeg. Die olyfolie mag dalk na baie klink, maar dís wat saam met die gebraaide tamaties die sous maak
Genoeg vir 6 persone
60 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, gekap
400 g kersietamaties
sout en varsgemaalde swartpeper
125 g-houer basiliekruidpesto
1 x 500 g-pak linguini-pasta, gekook volgens die aanwysings op die pak
150 g sagte mozzarellakaas
1 hand vol vars basiliekruid
Verhit die olyfolie in ’n middelslagpan tot goed warm. Voeg die ui, knoffel en kersietamaties by en roerbraai tot die tamaties begin oopbars. Geur goed met sout en swartpeper. Verwyder van die hitte en roer die pesto by. Voeg die gaar pasta by en meng deur met ’n pastalepel. Breek die mozzarella in kleiner stukke en meng deur. Breek die vars basiliekruid in growwe stukke
en strooi oor. Sit voor.
WENK: Natuurlik kan jy die pasta ook warm eet. Gooi dan vir ekstra smaak ’n hand vol of twee gerasperde parmesaankaas oor wanneer jy dit voorsit, maar omdat basiliekruidpesto parmesaan as bestanddeel bevat, is dit nie eintlik nodig nie.