Lensie-en-cherizosop

Foto: Donna Lewis


Ek het dié sop die eerste keer vir SARIE gemaak. Die terugvoer was ongelooflik en ek moet erken, dis een van die geurigste soppe wat ek ken. As jy sukkel om chorizo te kry, gebruik varkworsies wat gelaai is met baie kruie, en gooi ’n klein bietjie gerookte paprika by.

Genoeg vir 6 persone

30 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, gekap
1 brandrissie, fyngekap
4 chorizo-worse, in skyfies gesny
25 ml gerookte paprika
1 x 400 g-blik tamaties
500 ml hoenderaftreksel
2 x 400 g-blikke lensies, gedreineer
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die ui, knoffel, rissie en wors by. Braai 5–8 minute vinnig of tot die ui begin verbruin. Voeg die paprika, tamaties en aftreksel by. Verlaag die hitte en laat stadig kook tot die vloeistof met ’n derde verminder het, sowat
10–15 minute. Voeg die lensies by en bring weer tot kookpunt. Geur goed met sout en swartpeper. Sit warm voor.

WENK: Spoel lensies altyd onder lopende water in ’n meelsif af. Dit verwyder die styselagtige vloeistof waarin die lensies geblik is.