Lemoen-en-framboos-margarita

Foto: Donna Lewis


Warm somersdae vra om iets met skop! Dié drankie is baie verfrissend en sal jou dors binne minute les. As jy dit sonder alkohol verkies, kan jy die tequila uitlos.

Genoeg vir 6 persone

175 g frambose (raspberries)
105 g (125 ml) strooisuiker
2 kg gebreekte ys
1 liter lemoensap
100 ml tequila
4 lemmetjies, gehalveer
1 hand vol vars kruisement
6 groenappels, in dun skywe gesny

Plaas die frambose en suiker in ’n groot mengbak en druk met ’n aartappeldrukker fyn. Plaas in ’n groot ponsbak (ek gebruik sommer ’n groot glas-meelhouer) en giet die gebreekte ys daaroor. Voeg die res van die bestanddele by en meng deur. Sit voor.

WENK: Jy kan bevrore frambose gebruik, maar laat dit ontdooi voor jy dit saam met die suiker fyndruk. Gooi die vloeistof wat in die pakkie is ook by. Enige ander bessie wat in seisoen is sal ook lekker werk.