Foto: Donna Lewis
As jy dit nog nie agtergekom het nie, ek is mal oor frikkadelle. Dit was my ma se staatmaker as sy nie geweet het wat om te kook nie. Ek dink dis omdat sy die lekkerste frikkadelle by die slaghuis gekry het. Hou jou oë by die supermark oop vir ’n hele reeks wat gelaai is met geur. Maak seker jy koop die soort wat sê lean. Dit het minder vet en sal nie so wegkrimp tot niks nie.
Genoeg vir 6 persone
45 ml olyfolie
18 frikkadelle van jou keuse (ek verkies lam)
1 (sowat 200 g) komkommer, in blokkies gesny
2 knoffelhuisies, gekap
1 rooiui, gekap
1 avokado, in blokkies gesny
400 g kersietamaties, gehalveer
sap en skil van 2 suurlemoene
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 300 g-houer hoemoes
Verhit die olyfolie in ’n middelslag-braaipan tot goed warm en braai die frikkadelle tot goudbruin en gaar, sowat 8–12 minute. Terwyl die frikkaddele braai, meng die komkommer, knoffel, ui, avokado, tamaties en suurlemoensap en -skil saam. Geur goed met sout en swartpeper. Sit die frikkadelle warm voor met die salsa en lepels vol hoemoes.
WENK: Lus om jou eie frikkadelle te maak? Meng 1 fyngekapte ui en 2 fyngekapte knoffelhuisies met 1 kg maalvleis. Gooi daarby ’n 250 g-pakkie spek wat fyngekap is, ’n hand vol fyngekapte pietersielie en 1 eier. Geur baie goed met sout en peper. Meng en vorm frikkadelle.