Foto: Donna Lewis
Geen Sondagtafel, Kersmaal of familie-ete is ’n ete sonder ’n perfekte oondgeroosterde hoender met aartappels nie. Die geheim is om baie botter met kruie onder die vel in te druk sodat die vleis lekker klam bly terwyl dit bak.
Genoeg vir 6
230 g (250 ml) sagte botter
1 hand vol sagte kruie (tiemie, origanum en pietersielie), fyngekap
4 knoffelhuisies, fyngekap
2 ingelegde suurlemoene, baie fyn gekap
1 brandrissie, fyngekap
1 hand vol vars koljander, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper
1 groot hoender
Bros aartappels
500 g baba-aartappels
500 ml eendvet of kanolaolie
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die oond tot 180 °C. Meng die botter, kruie, knoffel, suurlemoene, brandrissie en koljander saam. Geur dit goed met sout en peper. Maak die borsvel van die hoender versigtig met jou vingers los en druk die kruiebot- ter tussen die vel en vleis in sonder om die vel te skeur. (Dit lyk na baie botter, maar alles moet ingaan, buiten een of twee lepels wat jy oor die res van die hoender smeer.) Plaas die hoender in ’n oondroosterbak, bedek met tinfoelie en bak 1 uur lank.
Berei intussen die aartappels só: Plaas hulle in ’n pot koue water, bring tot kookpunt en kook 30 minute of tot sag en gaar. Dreineer. Druk elke aartappel met die plat kant van ’n vurk tot dit oopbars.
Haal die hoender ná 1 uur uit en verwyder die foelie. Stel die oond op 200 °C. Gooi die vet of olie in ’n aparte oondroosterbak en plaas dit saam met die hoender vir 10 minute in die oond. Plaas die aartappels dan in die vet of olie en bak sowat 25 minute tot dit en ook die hoender goudbruin is. Dreineer die aartappels, geur goed met sout en peper en sit warm saam met die hoender voor.