My kruie-ciabatta met vyf bestanddele

Foto: Donna Lewis


Sedert ek in 2009 by SARIE as kosredakteur aangestel is, was hierdie ciabatta-resep seker een van my grootste suksesresepte. Dis een van die maklikste brode om te bak en een wat jou gaste se harte warm sal maak die oomblik dat jy dit uit die oond haal. Mens kan dit ongelukkig nie sonder ’n elektriese menger maak nie. Die geheim van die brood is om die deeg lank genoeg te laat rys.

2 brode

1 kg (1 785 ml) koekmeel
1 liter water
1 x 10 g-sakkie kitsgis
10 g sout
20 ml baie fyn gekapte vars gemengde kruie van jou keuse

Verhit die oond tot 220 oC. Gooi al die bestanddele in die bak van ’n elektriese menger. Meng dit op volspoed met die K-spaan tot die beslag ’n bol in die middel van die bak vorm, sowat 10–12 minute (moenie die menger alleen laat nie). Los die beslag in die bak en maak dit met kleefplastiek toe. Laat sowat 30 minute op ’n warm plek rys tot dubbel die volume. Sif ’n dik laag meel op ’n bakplaat wat met kleefwer- ende kossproei gespuit is. Sif nog meel op ’n werkop- pervlak en keer die deeg versigtig daarop uit. Sif ekstra meel oor die deeg en sny dit met ’n skerp mes versigtig in twee. Moenie die deeg te veel hanteer nie. Lig een stuk op en plaas dit met een beweging op die bakplaat. Herhaal met die tweede stuk deeg. Vorm die deeg met jou vingerpunte in twee langwerpige brode. Plaas dit dadelik in die warm oond en bak dit 20–25 minute of tot goudbruin en gaar.

Sit jou brood met hierdie maklike sampioen- patee voor: Verwarm 45 ml olyfolie en 60 ml botter in ’n middelslagpan. Braai 1 gekapte ui 2–3 minute daarin. Voeg 500 g baie fyn gekapte bruinsampioene en 2 fyngekapte stingels tiemie by. Braai 5–8 minute of tot die sampioene gaar is. Voeg 45 ml balsamiese asyn by, en geur goed met sout en swart- peper. Laat afkoel tot koud. Plaas dan saam met 500 g roomkaas in ’n voedselverwerk- er en pols teen ’n hoë spoed tot ’n gladde mengsel. Skep die patee in bakkies en sprin- kel ’n bietjie goeie olyfolie oor.