Kreefsterte in pancetta-roomsous

Foto: Donna Lewis


Ek maak gereeld dié kreef vir vriende. Koop bevrore kreefsterte by viswinkels as jy nie varses kan kry nie. Ontdooi dit oornag in ’n vergiettes binne-in jou yskas. So vloei die water weg van die kreef af. Natuurlik, as jy vars kreef kan kry, is dit koning!

Genoeg vir 6 persone

40 g (45 ml) botter
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
3 knoffelhuisies, fyngekap
100 g pancetta- of spekblokkies
1 x 250 ml-houer room
125 ml witwyn
1 hand vol fyngekapte pietersielie sap en skil van 1 suurlemoen
12 kreefsterte
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die botter en olyfolie oor hoë hitte in ’n middelslagpot. Voeg die ui, knoffel en pancetta of spek by. Roerbraai 3–5 minute of tot lekker goudbruin – dis belangrik dat jy dit goudbruin braai, want dís wat die meeste smaak aan jou sous gee. Voeg die room en witwyn by en laat 5 minute kook of tot dit met ’n derde verminder het. Voeg die pietersielie en suurlemoensap en -skil by. Gooi nou jou kreefsterte by en roer deur met ’n houtlepel. Plaas die deksel op die pot en laat 5–8 minute prut of tot die kreef gaar is. Die kreef is gaar sodra die dop rooi raak. Verwyder van die hitte en geur goed met sout en swartpeper. Sit dadelik voor.

WENK: Sukkel jy om kreef te kry, of soek jy dalk iets meer bekostigbaar? Vervang die kreef dan met swartmossels. Onthou om mossels wat nie oopgestoom het nie, weg te gooi