Foto: Donna Lewis
Hierdie resep sal jou nooit in die steek laat nie! Dis ekstra geurig met die vars smaak van sitrusskil, en die sous is amper soos die Italianers se gremolata wat hulle saam met kalfskenkels voorsit.
Genoeg vir 6-8
45 ml olyfolie
2 uie, gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
4 wortels, in skywe gesny
1 kg kort lamskenkels
4 takkies roosmaryn
1 x 690 g-bottel tamatiepuree
1 x 200 g-buis tamatie pasta
1 x 410 g-blik tamaties
1 liter lamsaftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper
2 x 410 g-blikke botterbone
skil van 4 suurlemoene
2 rooi brandrissies, gekap
Verhit die oond tot 180 °C. Verhit die olie in ’n mid- delslagpot. Voeg die uie en knoffel by en roerbraai tot dit begin verbruin. Voeg die wortels by en roerbraai 2 minute. Voeg die skenkels by en braai nog 5 minute. Voeg die roosmaryn by en braai ’n verdere 2 minute. Voeg die tamatiepuree en -pasta asook die ingemaakte tamaties by en meng deur. Roer die aftreksel in. Geur goed met sout en peper. Plaas in die warm oond en bak sowat 2 uur tot die vleis sag is. Dreineer die bone en meng dit by. Roer die suurlemoenskil en brandrissies in. Sit met rys voor.
WENK: Jy kan lamsbredie met romerige kapokaar- tappels pleks van rys voorsit. Die geheim van lekker kapokaartappels is om die aartappels met warm melk en baie botter te puree. Geur dit ook altyd met vars seesout en baie neut- muskaat – dis hoe my ma altyd maak!