Groenkool-en-appelslaai

Foto: Donna Lewis


Koolslaai was nog nooit so opgetof gewees nie! Gebruik baba-kool wat soeter in smaak is. As jy dit nie kan kry nie, kan jy groot koolkoppe in dun repies snipper.

Genoeg vir 6

250 ml goeiegehalte-mayonnaise
125 ml Griekse jogurt
sap en skil van 2 suurlemoene
sout en varsgemaalde swartpeper
4 groenappels, in dun skywe gesny
3 baba-groenkoolkoppe, in kwarte gesny 1 x 200 g-sakkie rosyntjies
1 x 100 g-sakkie pekanneute, grofgekap

Meng die mayonnaise, jogurt, en sap en skil van die suurlemoene saam. Geur goed met sout en swartpeper. Pak die appels en kool op ’n mooi opdienbord. Strooi die rosyntjies en pekanneute oor. Skep die slaaisous oor en sit voor.

WENK: Appels word gou bruin ná jy dit gesny het. As jy weet jy gaan die slaai nie onmiddellik voorsit nie, kan jy die appelskywe met suurlemoensap bedruip. Die slaaisous bevat ook suurlemoensap wat sal help om verbruining te voorkom.