Foto: Donna Lewis
Wie het nou ooit gedink dié klassieke broodjies kan so fênsie lyk! Maak seker jy gebruik vars brood.
Genoeg vir 6 persone
1 (sowat 400 g) komkommer
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 x 250 g-houer roomkaas
sout en varsgemaalde swartpeper
24 snye witbrood, korsies afgesny
1 x 30 g-bakkie grasuie, fyngekap
Rasper die komkommer op die fyn kant van ’n rasper in ’n metaal-meelsif. Druk daarop met die agterkant van ’n lepel om al die komkommerwater te laat uitloop. Gooi die water weg en meng die komkommerpulp met
die knoffel en roomkaas. Geur goed met sout en swartpeper. Maak toe-broodjies met ’n driekwart van die roomkaasmengsel en halveer hulle oorhoeks om driehoeke te vorm. Smeer ’n klein bietjie van die oorblywende roomkaasmengsel op die korsiekant van elke broodjie en doop in die gekapte grasuie (sien foto). Sit voor.
WENK: Gee die roomkaasvulsel ’n bietjie skop deur 2 fyngekapte brandrissies by te voeg. Probeer ook so 5 ml gerookte paprika vir ’n ander variasie.