Foto: Donna Lewis
As jy van die Noord-Kaap af kom, ken jy dié manier van gaarmaak baie goed: Ribbetjies wat stadig oor die kole tot goudbruin en bros gebraai word ... eenvoudige kos, maar lekker. Maar ons kan nie altyd die vure aansteek nie, so ons braai hulle onder die oondrooster of in ’n vuurwarm riffelpan.
Genoeg vir 6
24 lamsribbetjies
60 ml bruinasyn
varsgemaalde growwe sout
varsgemaalde swartpeper
60 ml heel koljanderkorrels, fyngestamp
Koolslaai
200 g kool, fyngekap
2 appels, ontklok en grofgekap
70 g rosyntjies
100 g okkerneute, fyngekap
300 ml mayonnaise van goeie gehalte
100 ml volroomjogurt
Voorverhit die oondrooster-element tot 160 °C, of sorg vir matige warm kole vir braai. Pak die ribbetjies op ’n oondroosterplaat of op ’n toeklaprooster vir die kole. Sprinkel die asyn oor en vryf dit goed in die vleis in met jou vinger- punte. Geur met sout en peper en sprinkel die koljander oor. Oondbraai vir sowat 1 uur stadig onder die rooster-element met die vetkant na bo tot die vet uitgebraai is. As jy oor die kole braai, draai die ribbetjies om tot die vet goudbruin en brosgebraai is.
Koolslaai: Meng al die slaaibestanddele saam. Sit voor saam met die ribbetjies met ekstra fyn koljander.