Koljander lamsribbetjies met my ma se soetmosterd

Foto: Michael le Grange


Herman onthou...

In my grootwordhuis het my ma, Susan, geglo in eenvoud wanneer sy kos gemaak het. Vir die beste lam het sy net asyn, koljander sout oor die ribbetjies gesmeer. Hy is dan of geoondbraai of stadig oor kole gebraai tot goudbruin en bros. Maar die hoogtepunt was haar soetmosterd was sy saam met dit bedien het. Dankie ma dat jy my geleer het dat eenvoudige kos die beste smaak, maar dat wanneer jy kook jy die heel beste bestanddele moet gebruik.

GENOEG VIR 6

Bestanddele

1 groot heel lamsrib
varsgemaalde seesout
40 ml heel koljandersaad, grofgemaal
varsgemaalde
swartpeper
100 ml rooiwyn-asyn
Verhit oond tot 160 °C.

Soetmosterd

Soetmosterd
80 ml mosterdpoeier
120 ml witwyn-asyn
180 ml suiker
8 eiergele

Ribbetjie Sny met ’n skerp mes ’n diamantpatroon op die vetkant van die rib. Sprinkel vetkant ruim met seesout, koljander en swartpeper. Gebruik jou vinger en vryf die speserye oral in die vet in. Sprinkel asyn op en sit die rib in ‘n oondbak. Plaas in warm oond en braai. Jy wil die rib baie stadig braai sodat al die vet uitbraai en die vleis lekker bros raak – sowat 2 uur. Sodra rib goudbruin en bros is, sny op in porsies en sit voor met soet mosterdsous (resep volg).

Soetmosterd Meng alles in ’n glasbak wat oor ’n pot kokende water geplaas is en roer aanhoudend met draadklitser tot die mengsel dik en gaar is, 8-10 minute. Verwyder van hitte. Laat afkoel en sit voor saam met rib.