Klapperbroodjies met roomys

Foto: Donna Lewis


Die inspirasie agter dié broodjies kom van die Australiese kosghoeroe, Donna Hay. Sy het die broodjies een aand op haar TV-program Fresh, Fast, Simple gemaak. Ek was so betower daardeur dat ek dit nou gereeld maak. Hier is my weergawe, dankie Donna!

genoeg vir 6 persone

170 g (500 ml) fyn klapper
60 g (60 ml) botter, gesmelt
2 eierwitte
10 ml vanieljegeursel
70 g (80 ml) strooisuiker
1 liter roomys van jou keuse

Verhit die oond tot 200 °C. Plaas die klapper, botter, eierwitte, vanielje en suiker in ’n groot mengbak. Meng goed. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Plaas ’n 10 cm-koekiedrukker op die bakplaat en skep van die klappermengsel in die drukker. Gebruik jou vingerpunte en druk die klapper stewig vas tot sowat 5 mm dik. Lig die drukker versigtig op. Herhaal tot jy 12 sirkels het. Bak 8–12 minute of tot goudbruin. Verwyder die bakpapier met koekies versigtig van die plaat en laat afkoel tot koud. Skep balle roomys en plaas dit tussen die koekies. Sit voor.

WENK: Gee die klapperkoekies ’n anderste smaak deur 100 g fyngekapte donker sjokolade by te roer wanneer jy die mengsel maak.